Department of Afrikaans and Theory of Literature

Spelfeeskompetisie by Laerskool Sanddrift

e Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap het hul eerste spelfeeskompetisie aangebied by Laerskool Sanddrift op 18 Mei 2018. Nie net was dit ʼn eerste vir die departement nie, maar ook ʼn heel eerste vir Laerskool Sanddrift in Noordwes. Groot was die afwagting en opbou tot die aanbied van die spelfeeskompetisie. Die vier lede van die departement, prof. Saal, dr. Lombard, mnr. Broodryk en me. Steynberg,  wat die finale rondte van die kompetisie beoordeel het, was met groot afwagting begroet toe hulle die oggend van 18 Mei die skool besoek het. Twaalf graad 4-leerders het deurgedring na die finale rondte van die kompetisie, nadat juffrou Gwyneth Fourie die uitdunrondte hanteer het. Die twaalf finaliste was natuurlik baie senuweeagtig, want dit is geen maklike taak om voor jou medeleerders en ouers woorde te spel nie. Maar daar was ook ʼn kinderlike opgewondenheid te bespeur. Die eerste leerder wat as finalis uitgeval het, het gesorg vir baie tranerige oë. Selfs die beoordelaars was aangedaan deur die klein graad 4-leerder se hartseer omdat sy die verhoog eerste moes verlaat. Daarna het die senuwees begin plek maak vir opgewondenheid, en het die leerders al hoe meer pret gehad met die spel van woorde. Eers in rondte 11, na ʼn taai driestryd, kon ʼn wenner aangewys word, nadat Roelof van Wyk  die wenwoord “verkyker” korrek kon spel. Die uitdeel van die sertifikate het vir groot opgewondenheid gesorg en vergete was die spanning en trane van vroeër. Die dag het bewys dat spelfeeskompetisies nie net leerders blootstel aan ʼn wye reeks woorde nie, maar dat dit ook groot pret kan wees. Die sukses van die dag is opgesom in die vraag van een van die graad 4-leerders aan die Spelbestuurder: “Oom, wanneer hou ons weer so ʼn kompetisie?”. Hierdie kompetisie het leerders honger gemaak om te spel, maar hulle ook geleer om met selfvertroue in die openbaar te kan opstaan en hardop en duidelik woorde te spel. Om woorde te spel, was nog nooit so lekker nie!  

Last modified: Mon Aug 07 18:03:37 SAST 2023